|
Dr Frans Hancke is ʼn Navorsingsgenoot van die Universiteit Vrystaat en stigter en Uitvoerende Direkteur van diePLAN, ʼn organisasie wat die universele kerk help om as transformasie-agent sy missionele aard tot groter eer van God uit te leef. Hy was ook die stigter, en tot 2006 die Uitvoerende Direkteur, van ProChristo Global Mission, 'n sendingorganisasie wat sedert 1992 fokus op die uitdra van die Evangelie aan die mins-bereikte etnies-linguistiese groepe in die wêreld. Nadat hy 'n graad in die Ekonomiese Wetenskappe en 'n Hoër Onderwysdiploma aan die Universiteit van Stellenbosch behaal het, begin sy loopbaan as onderwyser. Ses jaar later betree hy die sakewêreld eers as rekenmeester en later as bestuurder van 'n span wat gevorderde bestuursinligtingstelsels ontwikkel en implementeer. Van 1985 tot 1997 was hy Finansiële Bestuurder in groot korporatiewe ondernemings. In 1998 behaal hy die graad BA (Hons) in Teologie (Cum Laude) aan die Universiteit Potchefstroom en in 2002 die MA Teologie (Sendingwetenskap) (Cum Laude) aan die Universiteit Vrystaat met 'n skripsie getiteld The common critical success factors determining the mission impact of the local church – an analytical study. Die Dekaansmedalje vir die beste Meestersgraadstudent in Teologie is vir hierdie navorsing aan hom toegeken. Hierdie Bybelstudiegids is op dié navorsing gebaseer. In 2006 verwerf hy 'n PhD. aan die Universiteit Vrystaat. Sy proefskrif met die titel Factors influencing comprehensive personal witness and enlarging missional involvement in the local church word hoog aangeskryf en gesien as 'n navorsingsproduk wat 'n unieke en besondere internasionale bydrae lewer. Enkele artikels en publikasies het reeds deur sy pen die lig gesien terwyl hy gereeld landswyd en ook in die buiteland by gemeentes optree. Hy is verbind aan NG Garsfontein in Pretoria, NG Nahoon in Oos Londen en NG Diamantveld in Kimberley. Frans is getroud met Elize, 'n musiekonderwyseres en orrelis. Die egpaar het drie kinders. |