|
06 April 2011
Die kerk in beweging…
Waarom maak sommige gemeentes ʼn groter verskil as ander? Hierdie vraag het aanleiding gegee tot navorsing wat uitgeloop het op wat vandag as diePLAN bekendstaan. ʼn Organisasie wat die kerk in verskeie lande ondersteun om te herontdek wat God se Plan met en deur hulle is.
Om dit effektief te kan doen werk ʼn groeiende groep Teoloë, navorsers en ander gelowiges saam en word daar deurlopend met vennote en netwerke plaaslik en internasionaal geskakel om gemeentes effektiewer te kan ondersteun. Een van ons primêre vennote is Shepherd, die instansie van die Teologiese Fakulteit by die Universiteit Vrystaat, wat die voortgesette bedieningsonderrig van predikante koördineer
By diePLAN glo ons dat geen volhoubare impak moontlik is wanneer gemeentes slegs aangemoedig word om by meer projekte betrokke te raak nie. Skuldgevoelens en emosionele opwekking is, na ons mening, ook nie die manier waarop die gemeente se betrokkenheid na buite blywend en volhoubaar verhoog nie. Met die Skrif as onverhandelbare vertrekpunt glo ons dat nuwe entoesiasme en dinamika ontwikkel wanneer ons herontdek wie en wat die kerk waarlik is. Daarom is ons voortdurend besig om medegelowiges uit te daag om te besin oor ons Godsbegrip, kerkbegrip en wêreldbegrip. Terselfdertyd herbesin ons voortdurend oor die Skrifbegronding en effek van historiese perspektiewe oor die kerk in die wêreld.
diePLAN gebruik verskeie strategieë en hulpmiddels om gemeentes te ondersteun om hul unieke rol en plek in God se Plan te herontdek. Voortgesette navorsing, werkwinkels, retraites en ʼn groeiende aantal publikasies en artikels dra hiertoe by. Die materiaal word steeds in meer tale vertaal en in ʼn groeiende aantal lande bekendgestel. Op hierdie wyse probeer ons meewerk om God se mense te inspireer om met bruisende entoesiasme as verskilmakers te lewe.
Gemeentes, asook jy persoonlik, kan deel word van hierdie ‘reis’ waartydens ons opnuut ontdek wat dit beteken wanneer Jesus sê: ‘Soos die Vader my gestuur het, stuur ek julle ook…”
--ooOoo--



























