Evangelisasie deur kleure

Print
PDF

Evangelisasie deur kleure

Evangelisasie deur kleure


Prys: R60.00 - CD en posgeld ingesluit   (tans slegs in Afrikaans beskikbaar)


Hierdie boekie kom na meer as twintig jaar se betrokkenheid by Evangelisasie. Daar is soortgelyke opleidingsmateriaal wat ook van kleure gebruik maak. Sommige gebruik vier kleure (bv swart, rooi, wit, groen); ander gebruik vyf kleure (bv geel, swart, rooi, wit, groen). - Ensie Enslin.

 

Ek het egter tot die besef gekom dat die EEN aspek van ons geloof wat die Christendom van ALLE ander godsdiensgroepe in die wêreld onder-skei en uniek maak, is die feit dat JESUS CHRISTUS, ons Saligmaker en Verlosser, LÉÉF!  Daarom voeg ek by die Evangelisasie-toerusting wat ek aanbied, ‘n sesde kleur, naamlik: BLOU – wat ons daaraan herinner dat Jesus OPGESTAAN hét uit die dood, opgevaar hét na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, vanwaar Hy (Jesus) weer sál kom. (vgl 1 Kor 15)

Soos jy hierbo reeds sou agterkom, is hierdie boekie nie bedoel as lees-boek nie, maar as uitdrukking van dit wat ek met my hele hart gló. Verder is dit geskryf as handboek met die oog op opleiding (toerusting) waarin ek jou wil begelei en help om aan die einde van so ‘n toerustings-geleentheid dit te kan gebruik as handleiding om weer ander te gaan oplei en toerus... (dissipelmaking) (Vgl Matt 28:19; 2 Tim 2:2). Daarom dat daar ook ‘n CD met al die Power Point aanbiedings, notas, ensovoorts, hierby ingesluit is.

Nog ’n beginsel wat ek as basis gebruik, is Hand 17:11 se beginsel – waar die Woord van God die basis is waaraan wat mense sê, gemeet word – en NIE andersom nie! Daarom sal jy vind dat ek baie van Skrifverwysings gebruik maak. Gevolglik kan hierdie boekie ook as Bybelstudieboek gebruik word om die kernwaarhede van die Woord van God te bestudeer. Dit sou by soveel verskillende geleenthede gebruik kon word: huisgodsdiens (ons kinders – en ouers? - KEN nie meer die SKRIF nie!), vir katkisante (selfs die kleintjies. – Ek het al tydens ‘n kinder-Pinkster ‘n 4½ jarige seuntjie geleer om die kernwaarhede van die Bybel te kan onthou en aan ‘n ander maatjie te vertel, en twee jaar later het hy my kom vertel: “Oom, ek onthou nog alles!”) Dit sou ook gebruik kon word by selgroepe, ter voorbereiding van uitreikgroepe, as preek-temas, ens.

Jy sal ook vind dat ek heelwat “ekstras” bygevoeg het as hulpmiddels om die Evangelie van ons Here Jesus Christus ons eie te kan maak en op ‘n eenvoudige manier te kan deel met ander. Daarom is hierdie toerusting NIE geskoei op’n METODE waar by punt A begin word en by punt Z geeïndig word nie. Veeleer is die bedoeling dat jy die “groot prentjie” of geheel-boodskap van die Woord van God sal ontdek, dit jou EIE sal maak (deur geloof) en in jou hart sal bewaar, sodat jou mond daarvan sál oorloop tot Sy eer! (Matt 12:34; Hand 4:19,20) Ook dat jy dan by enige mens se nood sal kan aansluit, jou met hul diepste seer sal kan identifiseer en dan deur die Heilige Gees gelei sal word (Matt 10:19-20; Hand 1:8) om God’s Woord (1 Kor 2:1-4; Ps 73:28) & wil spontaan met hulle te kan deel in ware (ook daad-)liefde en omgee (Jak 2:14-26; 1 Joh 3:17-18).

Die gebed van my hart is dat die Here mag gee dat hierdie boekie ‘n beskeie, maar daadwerklike verskil in jou verhouding met Hom en jou naaste sal maak tot sy eer! (Joh 5:39,40; Matt 22:37-40)

Jou dienskneg in Christus Jesus, Ensie Enslin.

Soli Deo Gloria!

Add comment


Security code
Refresh

In an effort to prevent automatic filling, you should perform a task displayed below.