|
10 August 2010
DIE IMPAK VAN DIE PLAASLIKE MISSIONÊRE GEMEENTE
VBO WINTERWEEK
Missionêre gemeentewees - Dr Frans Hancke
Hierdie, soms verwarrende, kerktaal is ook nie eie aan Afrikaans nie, want uitdrukkings soos Integral Church, Total Church en Missional Church beskryf ook kerkwees op ? wyse wat meermale grootliks oorvleuel.
As ons by hierdie semantiese hindernisse kan verbykom val die lig op iets wat sommige as ? wêreldwye fenomeen in die kerk beskou, en wat na my mening, prakties daartoe kan bydra dat die kerk se impak in die wêreld versnel en groter afmetings sal aanneem as wat ons kan “bid of dink”.
Die enkele gedagtes oor missionêre gemeentewees word onder 6 opskrifte hanteer:
- Ongemaklike vrae vir mense met dik velle
- Sleutelsuksesfaktore? In die kerk?
- Werk dit? Om te meet is om te weet
- Wêreldwye herontdekking? – of plaaslike hype?
- Gemeentes wat buite tradisionele grense leef – hoe lyk dit buite die box?
- Maar om die hoek loer daar…
1. Ongemaklike vrae vir mense met dik velle
Mense met "dun velle" is meestal nie lus vir ongemaklike vrae nie, veral wanneer hierdie vrae, by wyse van spreke, ongerieflik naby aan jou eie lyf kom. Maar, die raamwerk waarbinne ons aan die missionêre gemeente dink, word grootliks gedefinieer deur ongemaklike vrae.
Kom ons vermy kleinserigheid en besluit of ons tevrede is met die status quo in ons gemeenskap, Suid-Afrika en die wêreld - en in die kerk. Is ons ingenome met die impak van die kerk in die wêreld? Is ons gemaklik met die marginalisering van die kerk? Aanvaar ons dat die Christendom meermale as ongeloofwaardig, irrelevant, fundamentalisties en middeleeus beleef word?
So lei een vraag tot 'n volgende en kan 'n mens begin wonder of die kerk waarlik besig is om gemeenskappe te transformeer en 'n waarneembare invloed of effek te hê?
Dit lyk asof dinge verder gekompliseer word wanneer tradisionele paradigmas oor die kerk en die wêreld ter sprake kom. Het mobiliseringspogings deur skuldgevoelens te kweek, emosies op te wek en mense met statistiek te bedwelm, langtermyn- en kollektiewe gevolge? Het die skep van kerklike modegiere enige blywende, universele, volgehoue resultate of sien ons steeds net sporadiese opflikkerings van missionêre betrokkenheid?
Vrae om die hede en verlede te probeer verstaan lei natuurlik tot vrae oor die toekoms van kerkwees en oor die oplossings wat daartoe sal bydra dat God se mense relevant en kontekstueel as verskilmakers sal leef.
Moet ons dalk in die toekoms net harder probeer? Dalk meer ywerig probeer oortuig, treffender aanbiedings voorberei, effektiewer gebruikmaak van hulpmiddels en tegnologie - kan dit dalk help? Moet ons met groter entoesiasme en oortuiging probeer om gemeentes by meer missionêre projekte betrokke te kry?
As ons vuisvoos hierdie bombardement van vrae oorleef het, staar die finale realiteit ons in die gesig: Hoe bewerkstellig ons 'n groeiende en volhoubare verskuiwing na missionêre kerkwees? Of moet ons met die status quo as 'n gegewe saamleef? Is dit maar hoe dit is, of behoort te wees en behoort ons hiermee vrede te maak?
Sekerlik kan 'n mens wonder: Waarom ons koppe oor al hierdie vrae breek? Ons erken en verstaan tog immers die missio Dei.





























